This blog is dedicated to the Haiku poetry of Arthur Viljoen. It is mainly in Afrikaans, but I have translated some sections into English. Please feel free to submit your own Haiku via the comments field, and I will gladly post them.

25 April 2005

Somer

Deur Arthur Viljoen

Stormreën, motreën,
Geelperskereën
Altyd dankie-sê vir reën

Hart van die somer:
Sonlig en reënvars wind
En swart-groen skaduwees

Paradys-groen dae
Pruimblou rante
Skemerblou aande

Wolke blom
In die somerlug -
Tuin sonder einde

Somertyd, wintertyd -
Helftes van
Ewigheid

Die somer blom uit -
Wit aaronskelke,
Maagdelik rein

Wit blomkoolwolke
Vol somerreën,
Weerlig en hael

Magnesiumwit strale
Lui die somer in
Skriklike skoonheid

Bloumaanlig nestel
In die holtes van die roos -
Ondraaglike vrede

Kalm somerdag -
Moeder van
Ongebore storms

Hoëveldse somerdag -
Waar anders pluim stormwolke
So hoog en wyd

Piep-klein voëltjie soebat
In die stormwind -
Ma en alles weg

Somerwolkies -
Gepluisde wattetjies haak
In doringtakkies vas

0 Comments:

Post a Comment

<< Home